Product added to wishlist
View Wishlist

Vir ouers: Hoe help ek my Gr.1 kind met Wiskunde huiswerk?

Wanneer ouers woorde of frases soos “konkrete voorwerpe” en “sigwoorde” in artikels of inligtingstukke sien, wonder hulle waarvan die mense dan nou eintlik praat. So ek gaan nou vir julle ‘n bietjie in “plein Afrikaans” help.

“Mamma, help my asseblief met my Wiskunde huiswerk.”

Sommige ouers kry die bewerasies as hulle hul Graad 1’tjies met Wiskunde huiswerk moet help. Dis nie dat dit regtig so moeilik is nie, maar hulle het sommer net ‘n “mental block” van toe hulle is skool was, nie goed kon regkry nie en miskien geslaan of op geskree of voor die klas verneder is. So haal nou diep asem en lees hierdie blog artikel.

Konkreet is die beste (enigste) manier.

Wat beteken konkreet? Enige voorwerpe waaraan jy kan vat.

Het jy “fancy” goed nodig? Nee! As jou kind van 1 tot 10 moet tel, kry tien lepels uit die laai en laat sy dit tel.

Algemene goed wat as konkrete voorwerpe gebruik word, is:

  • doppies
  • sade
  • klippies
  • blare
  • boontjies (alhoewel ons nie met arm kinders met kos-items mag werk nie)
  • podlode of penne
  • knopies
  • eetgerei
  • tandestokkies, ens.

Indien jy bevoorreg genoeg is om konkrete voorwerpe by ‘n opvoedkundige winkel te koop, kry jy ook:

  • tellers (“counters“), bv. in die vorms van diere,voertuie, ens.
  • unifix – blokkies wat inmekaar vas en vassit (veral lekker vir getalkombinasies)

Wat is getalkombinasies?

Dis getalle wat saam pas om ‘n groter getal te vorm, bv die getalkombinasies van 3 is:

  • 0 + 3
  • 1 + 2
  • 2 + 1
  • 3 + 0

Van Afrikaans na Wiskunde…

In Afrikaans praat die onderwysers van “sigwoorde”. Dit is woorde wat in die klas en by die huis oor en oor herhaal word en waarvan die kinders die vorm van die woord memoriseer. Hulle leer bv. die woord “Vlooi”. Hulle memoriseer hoe dit lyk en as jy dan die kaartjie van Vlooi flits, sê hul “Vlooi”. Nie omdat hul al kan lees nie, maar omdat hulle dit gememoriseer het.

Dit klink al te aardig vir ons ouers wat in tye van klank groot geword het. Ons wil “v” “l” “ooi” “vlooi” sê. Die Graad 1’tjies sal later wel in die jaar begin klank, maar hierdie metode werk ongelooflik goed volgens onderwysers wat dit nou al jare beproef. So moenie bekommerd wees nie. Vertrou die onderwysers! 🙂

Wat het dit met Wisk te doen? Net soos kinders sigwoorde memoriseer, moet hul ook memoriseer hoe ‘n getal (in voorwerpe) lyk.

  • As ek ‘n hele hand met 5 vingers wys, moet die kind nie nog 1, 2, 3, 4, 5 tel nie, maar dadelik weet ‘n hand is 5.
  • Wanneer ek 2 blokkies langs mekaar neersit, moet sy dadelik weet dis 2, sonder om te tel.

Hierdie is vaardighede wat hul ongelooflik help om vinniger Wiskunde konsepte te snap. Dit help hul ook in die toekoms, bv. as hul weet 4 + 1 is 5, dan sal hul ook vinniger weet 24 + 1 = 25, 94 + 1 = 95, ens.

So hoe help ek my kind?

  • Pak dit uit. Watookal die huiswerk sê, pak dit uit met voorwerpe. Onthou, in Graad 1 doen hul meestal 1 tot 10, so jy het tyd om selfvertroue op te bou voordat hul na groter getalle aangaan.
  • Moenie die werk vir die kind doen nie! Laat sy SELF eers probeer. Gooi ‘n klomp messe en vurke op die mat en sê: “Wys vir mamma met die messe en vurke hoe jy tot by tien kan tel.”
  • Wanneer hul foute maak, moenie dadelik “nee” of “verkeerd” sê nie. Vra ‘n vraag. “Boetie, kom nege rêrig na sewe? Tel jy ses, sewe, nege, tien? Of het jy dalk ietsie na sewe gemis?”
  • Prys jou kind na elke takie wat hy voltooi het, al het sy dit eers die tweede of derde keer reg gekry.
  • Moet nooi sê jy hou nie van Wiskunde en jy kan dit nie doen nie. Dadelik vrywe daardie houding op die kind af en dink hy ook hy sal hopeloos in Wiskunde wees. (Kyk net hoe val daardie selfvertroue).

Sterkte aan alle Graad 1 ouers!

 

Always use Thinking Tools
  •  
  •  
  •  

Subscribe to our Newsletter

Subscribe to our e-mail newsletter to receive updates.

No comments yet.

Leave a Reply